| |||||
Volkslied: 《义勇军进行曲》(《義勇軍進行曲》 Yìyǒngjūn Jìnxíngqǔ (Chinees vir: "Mars van die Vrywilligers") | |||||
Hoofstad | Beijing (Peking) | ||||
Grootste stad | Shanghai[1] | ||||
Amptelike tale | Chinees[2] | ||||
Regering | Enkelparty sosialistiese staat[3] Xi Jinping Li Qiang Han Zheng Han Zheng | ||||
Onafhanklikheid Vorming
• Eerste voorkeiserlike dinastie • Vereniging van China onder die Qin-dinastie • Republiek gestig • Volksrepubliek verklaar • Volksrepubliek geproklameer • Huidige grondwet |
2070 v.C. 221 v.C. 1 Januarie 1912 21 September 1949 1 Oktober 1949 4 Desember 2018 | ||||
Oppervlakte - Totaal - Water (%) |
9 596 961[4] of 9 572 900[5] km2 (3de/4de) 3 705 407 myl2 2,8 | ||||
Bevolking - 2022-skatting - 2020-sensus - Digtheid |
1 411 750 000[6] (1ste) 1 411 778 724[7] 145 / km2 (83ste) 375,5 / myl2 | ||||
BBP (KKP) - Totaal - Per capita |
2023-skatting | ||||
BBP (nominaal) - Totaal - Per capita |
2023-skatting | ||||
MOI (2021) | 0,768[9] (79ste) – hoog | ||||
Gini (2019) | 38,2[10] – medium | ||||
Geldeenheid | Renminbi (¥) (CNY )
| ||||
Tydsone - Somertyd |
SST (UTC+8:00) nie toegepas nie (UTC+8:00) | ||||
Internet-TLD | .cn, .中國, .中国 | ||||
Skakelkode | +86 |
Die Volksrepubliek China[11] (Mandaryn-Chinees: 中華人民共和國, pinyin: Zhōnghuá Rénmín Gònghéguó; wat soms ook Rooi-China of dikwels net China of Sjina genoem word) is 'n groot land in Oos-Asië en een van twee Chinese state wat daarop aanspraak maak dat hulle die regmatige verteenwoordiger van China is (sien ook Republiek China). Dit beslaan die grootste deel van die kulturele, historiese en geografiese grondgebied wat bekend staan as China. Dit is die land met die grootste bevolking ter wêreld, sowat 1,4 miljard, van wie die meeste etnies as van Han-Chinese herkoms geklassifiseer word.
Nog tot in die 16de eeu was China die hoogs ontwikkelde beskawing op aarde wat homself as die middelpunt van die wêreld beskou het – 'n land wat met sy handelsvloot op alle oseane gevaar en handel met alle wêrelddele gedryf het, 'n land waar tegnologiese en kulturele vooruitgang bewerkstellig is met uitvindings soos papier, buskruit, drukkuns, kompas en porselein. Die Volksrepubliek China het intussen 'n fase in sy ontwikkeling betree waar dit as ekonomiese, politieke en militêre grootmoondheid by hierdie verlede kan aanknoop om die Chinese Droom te verwesenlik.
Vir langer as 2000 jaar is die land deur ’n reeks magtige dinastieë regeer. In 1912 word dit ’n republiek, en in 1949, ná 'n lang oorlog tussen die nasionaliste en die kommuniste, ’n kommunistiese staat bekend as die Volksrepubliek China. Die staat is sedert sy stigting in 1949 deur die Kommunistiese Party van China (aanvanklik onder Mao Zedong) gelei. Die vestiging van 'n kommunistiese bewind volgens die voorbeeld van die Sowjetunie en 'n staatsbeheerde ekonomie word deur politieke ontleders en historici dikwels as die eerste van drie rewolusies in China se 20ste en 21ste eeuse geskiedenis beskou. Ten spyte van alle verwagtinge wat in die weste met die val van kommunisme in die Sowjetunie en die Oosbloklande in 1989 gekoester is, het China se kommunistiese stelsel geblyk om uiters stabiel te wees.
Meer onlangs het die Volksrepubliek China ekonomies vinnig ontwikkel. Vandag is dit een van die belangrikste ekonomiese en industriële moondhede in die wêreld wat volgens sy ekonomiese beplanning tot 2049, wanneer dit die eeufees van die Chinese Rewolusie sal vier, tot die voorste nywerheidsland op aarde sal groei.
Vryheid van spraak word beperk en toegang tot die internet word streng beheer. Die hardhandige onderdrukking van die Tiananmen-plein-opstand in 1989 en die voortgesette onderwerping van die Tibettaanse volk vertroebel egter China se internasionale beeld.[12]